Friday 18 January 2013

Appelkooskaaskoek

Om 'n bachelor te wees beteken dikwels dat jy dinge begin doen wat jy nooit voorheen aan sou gedink het nie. In die afgelope twee jaar het ek geleer om myself tuis te maak in die kombuis - nie dat 'n wasbak en 'n oondjie wat elke keer uit die kas gehaal moet word werklik die naam verdien nie, maar nou ja, mens sal verbaas wees wat jy met 'n tweeplaatstofie en 'n mikrogolf kan verrig.

Gister blaai ek in my verveeldheid deur 'n ou Huisgenoot en kom op die volgende resep af. Aangesien ek steeds op vakansie is sonder veel om te doen het ek besluit om hierdie kaaskoek te probeer, al was dit ook net om die verveeldheid vir 'n slag op sy plek te sit. Alles het goed verloop, die appelkose gee 'n effense suur smaak wat gepas is vir 'n yskaskaaskoek. Daar was net een probleem met die elektriese klitser - ek was nie bewus dat room die vermoë besit om botter te word nie. Hulle sê altyd mens moet versigtig wees as jy met power tools werk...

Kors
1 pakkie (200g) Nuttikrust-koekies, gekrummel (Ek kon dit nie vind nie toe gebruik ek sommer Tennisbeskuitjies)
60g botter, gesmelt

Vulsel
1 blik (410g) appelkooshelftes
1 pakkie (80g) lemoenjelliepoeier
250g maaskaas
250ml room, styf geklits
Ekstra appelkooshelftes of gekapte neute vir versiering

Kors - Meng die koekiekrummels en gesmelte botter en druk dit op die boom en teen die kante van 'n tertpan van 20-22 cm in deursnee vas.

Vulsel - Dreineer die appelkose en behou die vloeistof. Verhit die vloeistof en roer die jelliepoeier in tot dit opgelos is. Verwyder van die hitte en laat afkoel. Verpulp die appelkose in 'n voedselverwerker en roer dit saam met die maaskaas by die jelliemengsel in. Vou die geklitste room in en giet die mengsel in die kors. Plaas in die yskas tot gestol. Versier met appelkose of gekapte neute soos verkies.
Genoeg vir 6-8 mense.

No comments:

Post a Comment